Tuiste » Skoor Bek » Ek sal bly wag op jou. Voor ons deur.

Ek sal bly wag op jou. Voor ons deur.

ceres-036Ons het jou aangeneem op ‘n Vrydag in Maart.

En jy het weggeraak op ‘n Vrydag in Maart. 

Soos Oupa wat op sy verjaardag dood is – die perfekte sirkel.  En toe ons noudie dag van die datum wou seker maak, net om te sien wanneer ons vir jou ‘n ekstra drukkie moes gee, was jou veearts boekie net weg.  Maar dit is die Maart van 3 jaar later.

Ek haat Maart.  Jou boetie wat jy nooit geken het nie, is ook in Maart voor die huis doodgery.

As ek jou nog een maal kon vasdruk sou ek jou al die rou steak gee wat jy altyd voor gevra het.  En meer biltong en droewors as wat jy kon inkry.

Ek sou self die kreefpootjies uiteet, en vir jou die vet stert in stukkies sny, omdat jy altyd eerste by was as ons van die see af terugkom – angstig om te sien of jy iets gaan score.

My laaste woorde aan jou sou nie in ‘n kwaai stem wees omdat jy weer iewers in die sand gerol het, en jou wit lyfie asvaal deur die huis kom wals het nie.

En ek sou geweet het om op die grasperk vir jou ‘n spesiale drukkie te gee net voor ons ry.  Omdat dit die laaste drukkie sou wees.

Ek mis jou pootjie wat jy soggens na my uitsteek as ek vir jou gaan soek om more te se, en ek mis jou high five as ek saans huistoe kom.  En jou ogies wat skrefies trek teen die middag son.  Ek mis jou stemmetjie as jy vra vir kos, en ek gaan jou die winter mis as ek jeans aanhet, en jy nie daar is om teen my kuite uit te klouter tot op my skouer, as ek kosmaak nie. 

En snags mis ek jou as jy oor my kop kom klouter, en met ‘n luide purrr jouself neergooi om bietjie by ons te le.

Dis sleg om ‘n diertjie te verloor, maar dis nog slegter om nie te weet hoekom die diertjie nie huistoe gekom het nie.

Stuur vir my ‘n poskaart in my drome.  Van jy wat happy is, en ek wat nie aanmekaar moet huil nie.  Se jy mis ons, maar jy is okay.

Tot dan sal ek by die skuifdeur kyk.  Gereeld.  Net ingeval jy sit en wag om in te kom.

20 thoughts on “Ek sal bly wag op jou. Voor ons deur.

  1. Ag nee man Skoor sit ek nou hier en huil… Die ergste is sekerlik die onsekerheid, as mens tog net kan weet wat van die arme outjie geword het. Baie sterkte!

  2. Ai, Skoortjie, man!!
    As ek jou kat was en ek word al daai goed belowe ‘kom ek wragtig weer’ – nét die volgende dag!! Ek weet van ten minste een kat wat na langer as 3 jaar huistoe gekom het! Regtig!! My vriendin Anneline se kat ‘Spirit’ het – net eendag weer op die stoeptrappie gelê en verdwaas die verwelkoming oor haar laat spoel. You never know, Skoortjie, you never know…
    Ek’s mos nou nie die huggerige tipe nie, but here goes anyways: ( ( ( Skoortjie ) ) )😉

  3. Alta, M, Xanika, Pikkelik, BeeBee, Kaalvoet, Krista en Zee: dankie julle.

    Die gat in my hart en die gat in ons huis druk nog my keel toe.

    As ek dink watter hel haar lewe was voor ons haar aangeneem het, kan ek nie dink dat sy vrywillig die paradys sou verlaat het nie!

    Maar ek gaan vashou aan jou woorde BeeBee, en ek gaan bly hoop.

    Ek het geleer om nou diertjie soene te gee, eerder as vies woorde oor vuil lyfies.

  4. Gister vertel ek my ma hoe ek oor iemand wat ek nie regtig ken nie se kat wat ek nog nooit eens gevryf het nie gesit en huil het en toe vertel sy haar vriendin se kat het ook weggeraak en hulle kry toe maar twee kleintjies in sy plek, en net mooi daardie selfde dag toe kom hul kat terug! Solank daar net nog hoop is!

  5. Dis ‘n sweet storie Xanika, gelukkig het ek 4 ander ook in die huis, en Skoorlief SAL trek as ek nog ‘n dier huis toe bring.

    Dankie vir die smile wat jou voorstel gebring het. Miskien kan ek by die DBV ‘n kat op ‘bruikhuur’ gaan kry, net tot my ou wit gedroggie terugkom🙂

  6. Nee Alta, sy is nognie terug nie. Dankie vir jou woorde, ek sal blog in hoofletters as sy die dag terug is, maar my hart en my hoop is min.

    Dankie Son. Jy weet mos.

  7. Jislaaik Skoor, hoe hartseer het jy my nou.

    Maar katte loop soms weg, glo my, ek weet.

    Ek gaan styf duimvas hou dat sy wel gou weer terugkom, of dat jy uitsluitsel sal he oor die saak.

    Ai.
    ((Skoor))

  8. Dankie Maxie.

    Ek is egter oortuig dat my een buurman haar of verdrink of doodgeskop het.

    Dit het gisteraand in my kop gespring toe hy verskriklik gevloek het, en die volgende oomblik het ons kleinste kat in doodsangs oor die muur gekom. Hy slaan sy vrou, suip verskriklik, en mishandel hulle eie honde. Hierdie kat met haar tingerige lyfie sou vir hom geen match wees nie.

    Tot sy uitkom en my verkeerd bewys, sal ek bid dat hy sal versmoor in sy eie spoeg. Hy is anyway ‘n walglike bliksem.

  9. Ek hoop so dat dit nie die geval is nie, maar as dit wel is, sal ek saam met jou hoop dat hy versmoor in sy eie spoeg, en nog vele ander moorddadige gedagtes.

    Dis natuurlik die probleem met ‘n kat – jy kan hulle regmaak, vir hulle halsbandjies en naamplaatjies en 3 klokkies elk aansit, maar kan hulle nie keer om ander erwe te verken nie.

    Ek vrees self daagliks vir my gunstelingkat se lewe, want sy is alewig by die bure en sommige mense hou nou maar eenmaal net nie van kat se kind nie.

    Maar ek gaan steeds styf duimvashou dat sy wel terugkeer!

  10. Jinne Julle. Die verkeersman oorkant ons, kom klop Sondag oggend net voor 1 in die more, aan ons deur.

    Eers skrik ek omdat ek reken een van ons voertuie is gesteel, en hy het iets gesien… dis nadat ek hom deur die ogie in die deur herken het.

    En toe skrik ek, want in sy arms is ‘n spierwitte katjie. Maar dit was nie ons s’n nie.

    Hy het haar langs die grootpad gevind, gesukkel en haar gevang, en gehoop hy bring ‘n pleister vir ons siele!

    Ons stoutstert is steeds nie tuis nie. En dit was gisteraand vir my verskiklik swaar om kreef te kook sonder haar wat pootjies vra.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s