Tuiste » Skoor Bek » Akkerdrome

Akkerdrome

Vanoggend vroeg was die ganse en die hoenders al aan mekaar in die agterplaas.  Hulle wou skielik saam met die ligdag mossies weet wanneer hulle kos oor die onderdeur gaan verskyn.

Ek het myself gedwing om wakker te word.  Die reuk van gedekte riet diep in my longe ingetrek, en amper ‘n kat van die bed laat val met my uitrek-slag.  Toe ek die hortjies oopgooi, het die eerste sonstrale lek-lek beweeg oor die verste koppie op die plaas, en die vredevolle Sondag had ‘n stilte in haar lende.  Soos ‘n tevrede vrou.

Die honde het huppelend vooruit gedraf en blaffend tussen die pluimvee uitgestorm toe ek die agterdeur oopgooi.  Ek het ‘n paar hande gekraakte mielies oor die agterdeur uitgeskiet, en die mossies en die vinke het arrogant die duiwe verjaag om hulle deel van die gratis maal ook te kry.

Ek het die assies in die vuurhert eenkant toe geblaas tot ek ‘n gloeiende kool gekry het, en hom vasgepak met klein houtjies.  Die vuur het sommer vinnig gevat, en ek het die ketel oor die vuur geswaai sodat die water kon kook vir my eerste beker koffie.

Ek en my skaduwee, my getroue optelbrakkie, is badkamer toe.  Die ritueel wat hom elke more afspeel, ‘n gesig vir enige toeskouer…  Brakkie gaan sit op haar agterstewe, terwyl ek eers water in die waskom gooi, en dan afbuk om haar piering vol te maak.  Ek was my gesig in die koue water in die waskom op die wastafel met die bottelgroen teels, terwyl Brakkie stadig haar piering ledig.  Teen die tyd dat die slaap uit my oe is, het die ou kat haarself langs my op die wastafeltjie kom sitmaak, en gee sy nie om vir die verdwaalde spatseltjie water op haar lyfie nie.  Dit lek sy sommer saam met haar eie oggendritueel van reinigingsroetine, op.

In die kombuis, in die herd, kook my koffiewater geduldig.  Ek meet my koffiemaat af vir die eerste koppie, in die sakkie wat ek self in die winter voor die vuur sit en maak het, en gooi die kookwater daaroor.  Die geur van koffie slaan my neusgate wakker, en my maag grom.

Met ‘n roosterkoek van gisteraand se ete in die een hand, my blikbeker koffie in die ander, en drie van die sewe honde om my bene, loop ons in die gang af na die swaar hout voordeur.  Die koperhandvatsel blink in die skemer voorportaal.  Ek maak die deur oop met my elmboog, trek die onderdeur terug sodat die vierbeniges kan verbykom, en trap amper op ‘n kat toe ek ook ‘n gaping wil vat om op die voorstoep uit te gaan.

Ek gaan sit op die boonste trap van my Kaaps-Hollandse huis.  Die sonstrale is aan die ronddans tussen die laning akkerbome wat die pad na die werf soos soldate op aandag, aandui.

Die hoenders en die ganse is rondekrop besig om na die voorkant van die huis te beweeg om enige niksvermoedende goggas vas te trek.  My henne se eiergele is amper oranje.  Nie die dowwe geel van die dorpshoenders nie.

My roosterkoek en koffie is op.  Ek staan op, rek uit en draai om.  Die dag moet begin.  Dis Sondag.  Ek het mense genooi vir ete.  Ek moet die vuur gaan stook en die potte daaroor hang.  Vanmiddag eet ons waterblomme en koedoe nek. 

Dis mooi in my drome.

11 thoughts on “Akkerdrome

  1. PJ, dis hoe dit gaan wees in die Hemel. Ek is oortuig. Ek gaan hordes diere he, en meestal na oumense omsien. Soos vir hulle kook en so. Ons gaan darem seker nie heeldag op onse alies sit en harpe speel nie. Daarvoor is ek te onmusikaal! 😆

    Fanks BiB. Sonkind, sien jy – daas nie eens ‘n selfoon of krag in daai huis nie. En die enigste ‘rat’ wat jy op my werf sal kry, is die verdomde rats onder in die kelder van die huis wat hulself skelm help aan die koring en waar die wynvaatjies drup, aan die wyn! Die katte is te bederf om te jag.

    Jip Twilight, idillies. Nerens het ek genoem dat ek die alarm afskakel, of die deur en veiligheidshek oopsluit nie, ne!

  2. Wou jou net kom vertel ek het toe die bike gevind, aan die gang gekry en is besig met KAROONAG!!! Maar gaan my tyd neem om terugvoering te gee – tot dan bly mooi Skorie!!

  3. Jy laat my terug verlang na my kinderdae…beelde wat jy hier beskryf pop op in my gedagtes – en jy beskryf dit baie goed. Ek mis net die tarentale! Hulle het soggens en saans hul “deeltjie” kom vra. In plaas van ganse het ons makoue en kalkoene gehad (kyk ek is glad nie gek oor makoue nie, om die waarheid te se) en die makoue het soggens hul paadjie oor die pad na die dam geneem. Daardie kalkoenmannetjies was lekker hans en snorsig.

  4. Hmmmm Skorie – Gaat jy vir my kwaad wees omrede ek aanie slaap geraak het tydens die lees en klaargemaak het binne 3 ure? Ek wou aanmekaar weet nou WAAR is die res van die storie.
    Skies jong

  5. Toemaar Sammi. Ek het geleer dat as jou oe begin oorkruis lees, jy moet stop. Anders moet jy dit more anyway oor lees!

    Waar is die res van die storie?? Het jy die blad omgeblaai en agter-op ook gelees?? 😆 😆 😆

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s