Tuiste » Skoor klets met » Skoor klets met…Quintus Heine

Skoor klets met…Quintus Heine

Quintus Heine het my blog gekruis in ‘n comment wat hy gelos het, en ons het iewers langs die pad sinne uitgeruil.  Op sy foto lyk hy of hy 100% van my familie kan wees, maar sy van bevestig nie my vermoedens nie, so ek kan nie my familie uitbrei en aanvul nie! 

Die man skryf ernstige dinge en ek is effe skrikkerig om onder dieselfde koelteboom as hy tot ruste te moet kom, maar toe besef ek, iemand wat kaskar gery het (ja Quintus, ek weet wat dit is, en myne was van hoenderkratte gemaak destyds!) en kleilat gegooi het (ons het groen pruime afgepluk en gegooi, en ons gatte het gebrand oor die voortydige oessery) kan darem nie te veel neerkyk op ons plebs hier onder nie! 

Hier volg dus ‘n klets met ‘n NG Kerk predikant.  Nooit in my wildste drome sou ek dink dat ek so ‘n stap sou neem nie, maar kyk nou net hoe het die winde van verandering oor my klawers kom waai! 

Die gadget feak predikant wat nog pages op sy blog gaan voeg en reisverhale neerskryf en wat deur die venster kyk hoe sy vrou die tuin natlei.  Wat hy nie besef nie, is wanneer mens ‘n muur verf, jy ongelooflike openbaringe in jouself beleef en ervaar, en tyd het om regtig te dink.  Jis, en die verfdampe laat jou lekkerder trip as oorskiet nagmaalwyn!

 Fanks Quintus, ek het geweet iewers in die wye wêreld moet daar ‘n predikant wees wat al van die preekstoel af lekker gelag het!

 

 Iewers moes jy kaalvoet geloop het, en moes jy ook sekerlik soms eers jou vuil handjies gaan was, voor jy kon kos kry.  Waar het Quintus Heine sy kleinseuntjie dae deurgebring.

Ek het grootgeword  in die Vaaldriehoek. Skooldae in Hoërskool Vereeniging, daarna het ek twee jaar voltyds gaan sing vir die Kanaries (destydse weermag Koor en konsertgroep).

Wat is jou kosbaarste herinneringe van kindwees?

Toe ek kind was, was daar nie ‘n televisie nie. Ek het my eerste radio gekry toe ek 12 jaar oud was. So ons moes onsself besig hou.

Baie vriende gehad wat die strate  met ons fietse getakel het. het gereeld as kind langs die Vaalrivier deurgebring met visvang, kleilat gooi en kaskar ry.

Ek het nou nog littekens in my voete van kleinstyd se trap in bottelstukke na nagtelike toktokkie spelery, en die weghardloop na die eerste klop. Sal nooit vergeet toe ek een keer in mense se voortuin wegkruip na ‘n toktokkie sessie en ‘n groot harige spinnekop loop oor my bene, en ek nie durf opstaan nie, want die kwaai oom met sy  sambok het baie naby my gestaan! (ek dink daarom is ek nou nog nie groot harige spinnekoppe se beste vriend nie).

Ek onthou ook  ons is verbied om “pinball” by die kafee te gaan speel (met groot oë na dit verlang).  Dis seker waarom ek dit nou so geniet om dit te doen.

Vroeger kon jy poeliesman, onderwyser, boer of predikant word.  Die res is tronk toe. Sommige seuns se ouers het gevoel hulle is geroepe om hulle seun te dwing om predikant te word.  Hoekom het JY daardie pad geloop?

Ek het van skooldae af ‘n ongelooflike liefde vir geskiedenis gehad.

 Dit was my enigste vak waarna ek uitgesien het. Skool was verder net lekker vir al die aktiwiteite waaraan ek kon deelneem.

 So, ek wou graag in ‘n politieke geskiedenis rigting gaan . Maar aanvanklik wou ek ‘n advokaat word.

Behalwe al my persoonlike ideale, het ek egter van jongs af  die ervaring gehad dat ek baie naby aan die Here is en die gedagte het meer as een keer by my opgekom om predikant te word.

 Wel, in Matriek het ek duidelik ‘n roeping ontvang dat dit al is wat ek moes gaan doen. (Ek moet sê in my jare as predikant wat ek al menigmaal wou wegloop is dit nog altyd my roeping van die Here wat my laat bly het). Omdat ek redelik seker was wat ek wou gaan doen het my ingebore wanderlust  my eers toegelaat om vir twee jaar te gaan sing en toer.

Vertel meer van Quintus.  Die mens.  Wat maak hy wanneer hy werk.  En wat maak hy wanneer hy ontspan. 

Ek hou aan die eeu oue waarheid vas “ Moenie jouself baie ernstig opneem nie, maar dit wat jy doen is altyd ernstig. ”

Ek is ‘n mens wat met baie toewyding dinge aanpak. Ja ek is ‘n werkoholis. Ek sal vir ure aangaan sonder ophou.   Of ek preekmaak, mense help, betrokke is by kerklike- en samelewinsgaksies. Ek gee my alles.

Maar ek neem myself nie te ernstig op nie (dit moes die lewe eers vir my leer). Dit het my geleer om met minder bagasie deur die lewe te beweeg.

Is baie toegewy aan my roeping as verkondiger van evangelie. Behalwe baie gemeentewerk is ek ook baie betrokke by die breër kerklike dinge. Is betrokke om ander gemeentes te help met konflikhantering,  mediasie en fassilitering. Ek bly besig en geniet dit . Dit is my visie om te help om die kerk van Christus weer ‘n beweging van Christus te maak – in plaas van ‘n instituut.

Ek kan vir ure saam met vriende gesels. Ek is lief vir mense en hulle dinge. Ek dink dis waar my liefde vir geskiedenis ook inkom. Ek hou daarvan om patrone in die samelewing en geskiedenis raak te sien.  Daarom is een van my groot stokperdjies om geskiedenis en biografiee te lees.

 Jy sal my altyd besig kry met een of ander biografie (of autobiografie) langs my bedtafel oop.   Lees is en van die dinge wat ek die meeste doen. Ek geniet baie teologiese en vakkundige boeke. Ek lees ook oor enige interessante ding.  Ek lees nie baie fiksie nie.As ek regtig wil ontspan sal ek ‘n spanningsverhaal geniet of ‘n fliek kyk . Verder word elke koerant waarop ek my hand kan lê, gelees. (As my prediking aktueel wil bly moet ek weet wat in die wêreld aangaan) .

 Ek is iemand wat ‘n passie het vir navorsing. Sal oor enigiets wat my interesseer wil lees en ondersoek. Het my doktorsgraad in kerkreg en kerk geskiedenis gedoen en dit ongelooflik geniet.

Dit is seker ook die rede waarom ek so lief is vir reis en vreemde plekke besoek. Dit is die historiese en interessante waarde daarvan wat my fasineer.

 Soos jy al afgelei het, is my ander groot liefde musiek. Ek hou van musiek uit alle genres, maar ek sukkel soms met baie van die nuwere geslag se musiek, maar so nou en dan sal my kinders vir my ‘n lied kom speel wat ek baie geniet.  Ek hou veral van ligte Jazz.  Klassieke musiek, Rock van die 70’s en 80’s  ens ens.

Speel self bietjie kitaar (het dit lanklaas gedoen). Het al baie gedink dat as ek die dag tyd het ek graag saksofoon sal wil leer speel. Ek en my vrou (en kinders) besoek gereeld die teater.  Ons vrek oor ‘n lekker fliek (hoef nie altyd ‘n goeie fliek te wees nie).

Ons is ook lief vir die buitelewe. Ek kamp graag in my tent en as gesin het ons wonderlike herinneringe saam.  Ons het wonderlike stories van kamp en reisverhale  om te vertel (sal dit nog wil doen)  Ons is baie hegte gesin. Ek hou daarvan dat ons as gesin dinge saam doen.

 Is ook lief vir fotografie en elektroniese “gadgets”.  Ja as ek kon sou ek al wat ”gadget” gekoop en gebruik het.  

 O Ja… my twee Airdale terriers is my hart se punt!

 Ek dink persoonlik die geestelike leiers van vandag het dit hot agter met ‘n sterk suid-oos van voor.  Jy bly kompeteer teen die tegnologie, die TV, die draadloos.  Hoe hou jy jou mense voor jou, vasgenael vir ‘n skamele uur, terwyl hulle vir ure voor ‘n TV skerm sal sit?

Ek dink nie ek moet met die media kompeteer nie.  Ek moet maar net doen waarvoor ek geroep is. My taak is om maar net vir ander te vertel van Christus.

Tog is dit vir my belangrik om die volgende sake streng na te volg:  

Ek sal nooit optree as ek nie baie goed voorbereid is nie. Ek spandeer nogal baie tyd aan voorbereiding. Glo daaraan dat mense die moeite gedoen het om na jou te boodskap te kom luister, daarom mag jy nie afskeep nie. Dit is ‘n ongelooflike voorreg (en verantwoordelikheid) dat so klomp mense moeite doen en kosbare tyd opoffer om te kom luister. Ons moet die voorreg na waarde skat en dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie.   

 Verder dink ek jy moet net jouself en “genuine” wees. Wees lief vir die mense vir wie jy die boodskap bring . Bring dit met ‘n gesindheid en lewe van toewyding. Ek het nog nooit ‘n preek gelewer as ek nie eers daardie preek vir myself gepreek het en my eie lewe ondersoek het nie. Mense het nogal baie geduld met jou gebreke as jy net opreg is!

Jy het onlangs ‘n baie mooi stuk geskryf vir skoor.wordpress.com, en dit is ook wereldwyd versprei deur epos kettingbriewe.  ‘Here, ek bid vir ons land’ – het jy gaan sit en geskryf hieraan, of het jy lank geloop, op soek na die regte woorde?

Toe ek die versoek ontvang het, het ek by my lessenaar gaan sit en geskryf  wat ek op die oomblik uit my hart uit vir die Here wou bid. Het so bietjie daarna aan geskaaf en vir vroulief gemail om deur te lees en toe gestuur . Dit was werklik ‘n gebed wat ek op daardie oomblik uit die diepte van hart wou bid en gebid het! .

 Jy lyk, skryf en klink soos ‘n slim ou.  Vertel bietjie vir ons mense hier buite, hoe ‘n predikant se lewe is.  Ons sien julle as ‘Heiliges’.  Julle sê nie sommer ‘donir’ nie, en as daar tieties op TV is, slaan julle ‘n kruis!  Ek praat twak, nê?

Ons is normale ouens – met al die normale daaglikse dinge. Ek word ook kwaad vir  Naqelevuki ( Naar-klein-vloekie) en wonder met net soveel drif waarom Rassie nog met hom volhard. 

Sal ook vies opvlieg as Graeme Smit nog ‘n stupid besluit maak.

En ja,  ek drink bier,  hou van goeie wyn en geniet die lewe wat vir ons gegee is.

 Verder het predikante ook  kinders……..    

 Jou blog is nogal vol gewigtige onderwerpe.  Hoe kies jy waaroor om te skryf?

Ek probeer met my blog fokus op een saak.  In die geval:  ons lewe in teenwoordigheid van God.  (As ek eendag meer tyd het sal ek graag oor meer goed wou skryf soos my reisverhale, interessante mense en interessante dinge).

Ek skryf nie moedswillig oor gewigtige dinge nie, maar ek kry dit nie reg om “ligweg”oor die geestelike lewe te skryf nie.

Jy weet geen mens word regtig versadig deur gemorskos nie.  Dis vermaalik , maar hou nie .  Ek kry dit net nie reg om vir mense te belowe: “Glo en Jesus en jy sal geen probleme hê nie.

Daar is nie kortpaaie nie.  Ek het ‘n broertjie dood aan maklike geestelike oplossings en mense wat maak asof hulle alles weet. Ek besef heeltemal dat ‘n openbare gehoor nie noodwendig aptyt vir  swaarder onderwerpe het nie, maar ek moet ook getrou aan myself bly. Ek kan ook net skryf (soos ek preek) as iets vir my persoonlik betekenis het.

Ek skryf gewoonlik wat by my opkom. Soms lees ek iets of  sien ek iets en dink ‘daaroor moet ek skryf.’  Dit help as jy ‘n dissipline het om een keer ‘n week te skryf. (nie altyd maklik nie).

Ek kry ook soms versoeke en eposse van mense om oor ‘n sekere saak te skryf.  Dit help my. Maar ek moet eerlik kan wees. Het al baie gaan sit en weet ek moet nou skryf, maar het nog nie ‘n tema nie.  Soms kom dit maklik, maar meestal is dit maar harde werk.  

 Dit gebeur maar gereeld dat ek iets skryf en skaaf en oorskryf en dan weer formuleer.   Hoe lui die spreekwoord: “Niks in die lewe wat die moeite werd is, kom verniet nie”

 Het jy ‘n humorsin?  Waat laat jou skater?  En wat maak jou hartseer?

Ek sien gewoonlik die humor in ‘n situasie voordat  ander dink dis snaaks (al baie in verleentheid hieroor gewees).   Ek kan skater oor mens se dinge. Mense se optrede en (onbeholpe optrede ) gee my soms baie plesier, maar onthou lag en huil is nie ver van mekaar nie. Net soos ek saam met mense kan lag  kan ek ook hulle hartseer deel.

Ek kan onreg nie hanteer nie. Trouens dit maak my vies. Mense wat ander se swakhede uitbuit, is gemeen!  Ek hou ook nie van mense wat vals is of iemand wat dink hy is beter as ander – veral aanstellerigheid laat my gril .Ek word hartseer oor mense wat nie kos het nie – mense wat hulle seerkry alleen probeer dra . Mense wat hopeloos is (teenoorgestelde van hoopvol) Voel die meeste tuis tussen mense wat opreg is en nie meer agter maskers wegkruip nie , maak nie saak wie hulle is nie.    

 Het NG predikante regtig Maandae af?

Ai ‘n mens kan net droom nê! 

Nee wat – ek is 24/7 aan diens. Werk gewoonlik aan my kerklike goed so 12 ure ‘n weeks dag.  Dan is daar nog die besige Sondae en daar is altyd tye op Saterdae wat ek nog an my preke werk.  Die lewe het my al op ‘n harde manier geleer om die dissipline van ontspan in te werk. As ek werk, werk ek, maar as ek vakansie hou dan doen ek dit met dieselfde passie! Jy moet jou eie tyd en gesondheid bestuur. 

Jy kan niemand die skuld gee as jy nie tyd maak vir jouself en gesin nie .Jou huwelik en gesin is jou eerste roeping van die Here!  Jy moet dit eenvoudig doen!!!!!

 Is jy ‘n handige man?  Soos:  kan jy ‘n plug vervang, tuinmaak, geute aansit en braai?  Predikante het mos gewoonlik 10 duime.

Laat ek eers sê:   Ek is gek oor kosmaak. Van braai tot kook.  Ek hou van kosmaak (en wyn wat daarby pas )!!!

 Ek is handig (maar net as dit my pas)  Ek sal dinge regmaak wat reggemaak moet word. Sal meestal self my motors was, sal soms vloere skrop, wasgoed was ens. 

Ek haat dit om te stryk.  O ja, en ook om te verf!! Dis eenvoudig nie vir my lekker nie.  Ons weet mos om meer aaandag te gee aan ons sterkpunte!!  

Ek het as kind in die tuin geboer, met eie groente en al. Maar noudat ek minder tyd vir sulke dinge het, en dit nie meer hoef te doen nie, mis ek dit nie. My vrou is die een wat gedurig in die tuin sal woel.   

Het jy al begin lag van die preekstoel af, en kon nie ophou nie?  ‘n Kerk is mos een plek waar snaakserige dinge, sommer vinnig skreeusnaaks kan word.

Ja – veral as iemand die kollektebord laat val.  Van kindsbeen af wat dit nog altyd vir my baie snaaks. Of die koster wat die hond in die kerk wou skop en mis skop -teen die bank vas.  Of ‘n vrou se handsak van die gallery op iemand se kop val.

 Toe ek vir die eerste keer op die platteland kom en ‘n grap van die kansel vertel – toe dog die mense die kerk se toring gaan inval, want mens lag mos nie innie kerk nie!   

 Nee wat, die hele Bybel is vol humor.  Die grootse humor vir die Here (waaroor ek seker is Hy elke dag skater) is dat die mens dink hy kan deur goeie werke in die hemel kom.  Kan my nie ‘n lewe voorstel sonder om te lag en soms laf te wees nie.

 Kry mens nog ou tannies wat die dominie se lewe probeer reel, en vir Mevrou van haar kop af maak?

Ja en Nee. Dit hang af of jy hulle toelaat . Ons is lief vir mense en sal nie sommer iemand wil aanstoot gee nie , maar ek het deur die jare geleer om situasies en mense se klagtes met wysheid te bestuur.

Ek moet sê die stad is ook anders as die platteland en ons leef gelukkig in nuwe tye, waar my vrou deesdae ‘n eie lewe het, en ‘n gewone lidmaat is  – nie meer soos in die begin toe sy Mevrou-Dominie was nie.

Hoekom dink jy, laat Jesus toe dat soveel slegte dinge gebeur?

Nerens in die Bybel belowe die Here dat die lewe “plainsailing” gaan wees nie, trouens Hy stuur selfs sy dissipels in die stormagtige see in… Volgelinge van Jesus is nie mense waarmee dit net goed gaan nie. Dit is mense wat elke dag vir iemand ‘n stukkie hemel moet gee sodat hulle die liefde van God kan proe al sukkel hulself met die lewe.

Ons moet onthou dat die wêreld waarin ons leef gebroke is en nie volmaak nie. Ons is almal deel van die gebrokenheid. As jy ‘n mens is en op aarde leef is jy blootgestel aan siektes, oorloë en verkeerde dinge.  Daar gaan altyd slegte en hartseer dinge met alle mense gebeur – want ons leef op ‘n woeste onvolmaakte aarde!

Eers eendag sal ons saam met die Here die volmaakte betree. Die vraag is nie of  daar slegte dinge met jou gaan gebeur nie, maar hoe jy dit gaan hanteer.  Intussen moet ons maar die stryd stry en die slegte hanteer na die beste van ons vermoëns.  

Ons opdrag is nie om die seerkry in die lewe te vermy nie (jy kan nie solank jy op aarde is nie), maar om Jesus te volg en die slegte wat met mense gebeur met liefde te bestry en ons eie seerkry vir Hom te gee.

Die ander feit is dat die Here soms dinge gebruik om sy doel te bereik. Soms sal mense ook dinge oor hulself bring – dan kan jy nie die Here die skuld gee nie.

(Sien daar is nie maklike antwoorde nie – sal later dalk iets hieroor moet skryf)

 Quintus Heine is Staatspresident vir een dag.  Wat gaan jy op daardie dag doen?

Ek sal almal op die daardie dag ‘n heerlike bord kos en genoeg water wil gee.  En hulle daarna laat saamsing op die maat van die mooiste musiek!!!!  Musiek bring die mooie in almal uit en gee hulle hoop.

www.quintusheine.wordpress.com

12 thoughts on “Skoor klets met…Quintus Heine

  1. Ek het nog nooit ‘n kaskar gery nie😳 en ook nie kleilat gegooi nie😦 – maar my gat het al gebrand van ‘n voortydige oessery (gooseberries op my oom se plaas… die HELE oes😯 ) (my gat voel dit nou nog as ek net daaraan dink – was seerder as die perdebye en die donkiebyt en ook die stukkende melkbottel op die kêffie-stoepie… baie BAIE seerder, ja)…
    Soos reeds gesê – ek laaiks jou nuwe angle baie!! (Ek sien ek en die man het iets in gemeen – Geskiedenis was seriously die enigste vak waarna ek regtig uitgesien het op skool. Die ander het ek maar net gedwee gedoen oor ek moes) – maar laat ek bietjie daar by hom gaan inloer…
    Lekker naweek Skoortjie! x

  2. Snaakse dinge wat jy doen, Skoor. Kyk, ek hou regtig-regtig nie van dominees nie. Al van kleintyd en kleilat gooi-tyd af.
    Jy skryf egter so mooi, lat ek tot onder gelees het. Kon net nie ophou nie. Ek dink dit gaan weer daaroor dat dit lekker is om oor gewone mense te lees en klein bietjie persoonlike inligting of sienings te leer. Dit leer my om na ander oe na mense te kyk.
    Dis pragtig en interessant!

    Dis vir my reg en goed dat Quintus gekies het om die Stem te volg en nie gedwing was deur `n ouer se drome nie.
    Toe ek nog in die kerk was, kon ek so gou agterkom wie wou op die preekstoel wees en wie was daar vir die aansien en status. As kind al, ja! Veral as jy kind is, weet jy van opregtheid.

    My eie motto is ook presies soos Quintus s`n en dit maak sommige dinge vir mens makliker.
    Moenie die lewe te ernstig opneem nie, maar wees ernstig en opreg.

    Gees Quintus, gees!

  3. Baie interessant. Ek het kleilat gegooi en klei-osse gemaak! Ons kleigat was net ‘n bietjie te ver vir my – ons het nie baie soontoe gegaan nie. Kaskar gery by die skool se kaskarwedren-dae en selfs het manlief vir my Gr3’s een gemaak [‘n super een, met ‘n ou fiets as basis] vir ‘n kaskarwedrendag. Geskiedenis is ek lief voor…baie, maar nie om te studeer nie. Ek vrek oor museums en als wat oud is, enige iets wat oud is en ‘n stukkie geskiedenis het om te vertel. Doet so voort met die “onderhoude”…

  4. Hallo ou Graatjie… ek sou jou ook aan jou oorlelle opgehang het as jy my appelliefies voortydig geoes het, wees verseker. Dis darem net een van die sexieste vruggies wat ek al in my kies gehad het!

    AM, moenie die druk oplaai nie! Die mails is uit, van hulle het reply, ander nie. Sommige vrae is gestuur. Skoor wag in spanning vir die antwoorde.

    En Sigeuner met haar eerlike opregtheid kom slaat weer die stukkie hout met die byl middeldeur en kry almal se aandag. Jy hou mos nie van die tradisionele stuiwers in die armbeurs nie, dis mos altyd iets baie meer spectacular!😆

    Nikita, die uitdrukking ‘so toe soos ‘n klei-os se gat’ is darem ‘n klassieke ene! Ek dink nie mense weet meer wat dit beteken nie. En die klei-os konsep sterf ook uit. Darem jammer.

  5. Skoor…ek het op my blog ‘n foto van die Voortrekkerkinders van Stellenbosch wat klei-osse maak [by my inskrywing oor die gedig: “In die Hoeveld”], ek sien hul webwerf het verander en die foto is nie meer beskikbaar, maar hy is darem nog op my blog. Ek het ‘n image-search in google gedoen en dit lyk my daar is hier-en-daar darem groepies Voortrekkers wat dit nou en dan doen…gelukkig, maar soos jy se, dit sterf uit as algemene ding om te doen. En daardie uitdrukking is darem baie waar🙂 niks kan so toe wees nie lol -yuk, ek het ook op ‘n foto afgekom oor ‘n hoop droe mopaniewurms op daardie Voortrekker-website..😉

  6. Skoor man, magtag! Ek het nie gemeen om aandag te maak nie. Allermins. Net wou ek seg, disse cool dominee. Dis al.

  7. Ek is helemal gek oor hierdie onderhoud, vat my ver terug. Pinball speel saam met die groot newe by die porra se winkel, 5c vir drie balle en die omgekraptheid as die ding tilt, meeste van die tyd net gekyk, omdat die groot newe so verdomp suinig was om te deel. 3c vir chips en skielik was dit 5c gemerk met ‘n plakkertjie, en wat van die bubblegum masjien, 2c vir baie….Pa het slap chips by die griek se winkel gekoop, 20c s’n of 50c s’n en dan sommer ‘n emmer vol gekry. Kettie geskiet en ruite laat splinter om dan die gramskap van antie van die pienk huis te ontvang en van pa ook, net virrie fun. Tok-tokkie en selfs druiwe gesteel by oom dominee, wat weer samet die ouderling en diaken kom kuier het, sommer gepreek en gebid en ma het dan spesiale koppies gebruik, natuurlik kon ons net die preek luister en dan verdwyn. Die draadloos was nog draadloos met die middag stories. Patrys vir my en Bollie vir sus en boet….

    Maar wat hierie oom predikant betref, lyk my hy’s ‘n mense mens. Ek weet van oom dominees wat hul Maandag afvat, kom wat wou, moenie waag pla nie, nie eens hom nooi vir ‘n kommekie koffie nie.

  8. Nikita, nie ‘n Mopanie wurm oor die vrou se lippe nie! Ek moet bieg, ek het nog nooit ‘n klei os probeer bou nie. Net klei gebrei vir die kleilat. Tot ons groen pruime ontdek het!

    Bloedbek – draadloos was nog draadloos. Ek het my krismis clock radio (wat steeds speel) deur die venster gehang en in die somer op die lilo gele en stories luister.

    En die chappies was 1/2c stuk. En die keffie het ‘n glaskas met laaie vol lekkertes in gehad. En die bottermes in ‘n spaarblikkie gedruk, het die 20c vir die pacman in die keffie, lekker laat uitgly.

    Ons het nog lekker pak gekry en moes die grasperk sny met ‘n reuse grassnyer. As die ding nie wou start nie, was my bui sommer donder, en eendag het ek die spreier se voetstuk deur die grassnyer se boonste cover geslaan. En toe skrik ek my vrek en begin patch en mend. Maar daaroor het ek ook pak gekry!

    En ons moes akkers optel. 2 Reuse akkerbome gehad wat mildelik gegooi het. Dan moes AL die akkers eers opgetel word voor ons kon grassny. En glo my, ons ou Kaaps Hollandse huis had ‘n mamoerse grasperk. Goeie deel van ‘n Saterdag is in die sny, ophark, optel. En herfs was dit blare. Dan spring ons uitbundig die hoop blare dat hulle weer die wereld vol le, en moes ons alles oor doen.

    En die rol teen die terasse af! Geen keer aan ‘n kind se vermaak as daar nie TV of rekenaar was om ons lui te maak nie.

    Ai, waar is Bollie. Geen bloed en derms nie. Geen geweld. Geen lelikgeit. Ek mis daardie tye! Sal enige dag weer die grassnyer bliksem om dit terug te kry!

  9. Ai die nostalgie, MAAR die laaste sin laat my trane rol van die lag. Gister is vir ewig verby, ons moet die stories aan die kinners oordra, soos die dae en aande op oupa se skoot by die vuur met sy pyp innie bek so suig suig en stadig met ‘n stem vol heimwee van al hulle swaer kry dae die donkie karre die handploeg, die kapkar die nagmaal, die visvang op Veldrif en ook pa se dinge.

  10. So jy’s ‘n knapie van Vellerif? Ek ken min mense wat weet hoe ‘n bokkom dan nou smaak. En ek is ‘n Bolander, maar steier nie terug vir daai vissies nie. Wys my ‘n mopanie wurm en ek moer die grassnyer om vinniger te kan hardloop! 😆

  11. Skoor net altyd daar vir oupa en ouma gaan kuier. Ek is ‘n karoo kind. Maar van bokkoms ken ek en hardertjies oor die kole. Ek kry gereeld my stringetjie of twee of drie, maar dan moet ek dit vinnig verorber want liefie hou nie baie van die klankie nie, man ek verstaan nie dis dan so naby aan see soos wat kan kom. Mag ook nie naby die huis kom met dit nie, maar dis okay, innie stoorkamer met my knipmes skil ek die vissie af en verlustig my met elke happie, hoe water my tong dan nou, jip ek weet dis weer tyd om my voorradjie te laat kom seg ek jou.Die grootste fout wat pa en broers gemaak het in hul lewe was om nie eiendom daar te koop nie, jare gelede toe dit letterlik weggegee was. Die ome se reaksie was wie sal dan nou ooit daar wil bele, ai as hulle maar net geweet het!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s