Tuiste » Skoor Bek » Sigeuner en Literere Snobisme in Afrikaans

Sigeuner en Literere Snobisme in Afrikaans

Sigeuner het kom vra of sy ‘n gleufie op my blog kan kry om ‘n splinter in haar voet te ontbloot.  Ek cut en paste toe die onderstaande elle lange gedeelte net so uit haar sleutelbord.  Kommentaar kan maar hier gelaat word.  Sy reis gereeld hier verby en sal verseker kom klets.

Soos sy so getrou seg….GEES!

 

 

Vlymskerp Lem – die twee snykante van Literêre snobisme 

Sondag 2de Mei – Rapport/Boeke, skryf Stephanie Nieuwoudt van `n groot gees in die digterswêreld.  Lucas Malan.  15 April 2010 oorlede.  RIP

 Nieuwoudt skryf van iets wat Lucas in `n onderhoud gesê het, kort nadat `n bundel van hom verskyn het.  Hy het gesê:” …dis belangrik vir `n  digter om vertroud te wees met sy instrument: die taal.  Jy moet jou  medium ken.  Jy moet elke woord se herkoms, voorkoms en funksie verstaan.  Verder skryf Nieuwoudt dat sy begrip het vir sy woorde nadat sy `n honneursgraad in toegepaste linguistiek gedoen het.  Sy skryf dat `n vakman nie kan skep as hy nie respek het vir sy medium en dit nie goed verstaan nie.

 Daarmee stem ek nie saam nie.  Ek verstaan die taal, ek praat dit dan my lewe lank!

 Gepubliseerde werke was al te baie lank net vir `n klein, eksklusiewe groepie oënskynlik literêre opgevoedes beskore.

 Jóu werk, jόu muse, jόu rympies en hartsgevoeltes sou nimmer in `n bundel verskyn, as jy nie deel is van hierdie klein, geslote groepie nie.  Mense op literêre sofa`s sou wel dan en wan in `n media-medium jong opkomende digters se werke soos hitsige Rotweilers uitmekaarskeur en nie `n flenter omgee wie bloei nie. 

 Dan kan jy maar na dieselfde uitgesproke literêre snobs se werke gaan kyk en sien dat sommige gedigte wel diep deurdenk en goud werd is, maar sommige gedigte ook maar net gewone rymelary is.  Hulle wat wil sny met dubbel lemme, maar met dieselfde mes hul brood wil botter?

 Waarom het ekself al die jare digbundels gekoop, gedigte gelees, bloemlesings verslint en probeer om deernis met digters te hê?  Het ek nie deur half verslaaf aan die skone digkuns te wees in die proses dalk iets geleer  nie?  Deur werke te lees van groot meesters soos Boerneef, DJ Opperman, Adam Tas, C Louis Leipoldt, AD Keet, DF Malherbe (wat so oor die duiwel kon dig!), Jan F E Celliers, Elisabeth Eybers, Sheila Cussons…te veel, te veel om op te noem!…het ek mos kon sien hoe die binnewerke van `n gedig werk – iewers moes iets my kennis verbreed het op die veld?  Of het ek altyd maar net verniet my tyd gemors deur dit te verwyl met goeie kuns?  Nee!  Altyd is `n goeie gedig die moeite werd om te lees. 

 Hier sê ek vandag dat daar baie meer talent tussen gewone mense, sonder literêre opvoeding is, wat kan dig op wêreldformaat.  Nie omdat ek dink dis net leesbaar en verstaanbaar nie, maar dat dit so asemrowend is, dat elkeen wat dit lees sal wens dis sy eie werk daar op papier of op `n rekenaarskerm.  Iets wat jy eenkeer in jou lewe lees en daarna altyd die woorde in jou kop sal kan herroep.  Iets wat emosie in jou laat opstaan  om dit meer as eenkeer deur te lees.  Soos byvoorbeeld op Elf se blog.  Rou emosie word in woorde uitgedruk tot dit die leser se vleis laat uitgrot en oopsny tot diep in die hartweefsel in.  En ja, dan wens ek dat ek dit geskryf het!  Dis ver verby mooi – dis wonderwerke wat Elf geskep het.  So onbedorwe, ongekunsteld en onaanstellerig.

 Nou wil ek jou net vra – wie gee enige een die reg om digters – bekend of onbekend, literêr op honneursvlak of onliterêr in `n sinkhuis af te kraak, `n mening oor die werk te gee of net werke wat graad agter `n gedig kan skryf in bundels uit te gee?

 Is dit nie die reg van die leser om te besluit wat aanklank by hom/haar vind nie? 

Hoe gaan ons weet watter juwele daar is om te lees, as dit jaarin en jaaruit dieselfde esklusiewe, klein groepie bly wie se werk gepubliseer word? 

 (Dankie tog vir Nuwe Stemme 1, Nuwe Stemme 2, Nuwe Stemme 3 en 4!  Digbundels wat verskyn het om jong digters die kans te gee om hul stemme te laat hoor.  Wat `n jammerte dit gebeur net elke vierde jaar.)

 Die uitgewers-duiwels poog om saam te werk met literêre snobisme om digkuns ontoeganklik te maak vir die breër leserspubliek en slaag daarin om jonges en oues af te sit van die idee om digbundels te koop.  Wie wil nou 4 Hambidge, 8 Goosen, 3 Aucamp 2 Hofmeyr of 6 Malan bundels gaan koop as daar `n wyer verskeidenheid op die rake sou wees?  `n Mens kan ook net sover lees aan Valkuns of Vermaning.

 Ek sien myself nie as `n goeie digter nie, wel as `n digter.  `n Siel wat gebore is om woorde te verstaan, sonder dat ek graad gevang het om die grootsheid daarvan te kan snap.  Woorde kom klop en maal vanself in my kop.  Dag en nag, sonder dat ek beheer het daaroor.  Mooi woorde, growwe woorde, digterswoorde en sommer net plein onliterêre woorde wat voel dit gaan nog eendag iewers sin maak.  Ek weet nie elke woord se herkoms nie, dalk sit engele dit in my kop?  Is die Groot Skepper nie die skepper van elke woord nie?  Ek ken nie elke woord se werk nie, ek weet egter watter woord vir my sal werk.  Ek het egter `n helse lot respek vir woorde en nog meer liefde vir woorde en sal nooit-ooit daarsonder kan nie.  Woorde is liefde as jy dit net mooi gebruik.  Ek weet ek kan skep, ek is van niemand se persepsie afhanklik om my te vertel of dit `n literêre skepping is aldan nie.  Om my kreatiwiteit te kom probeer demp met literêre snert nie!  My skeppings kom van diep binne my en my muse is mense, myle ver verwyderd van siele met flymskerp tonge en onbegrip vir mense wat die taal PRAAT.

  Ek kan kosmaak sonder dat ek `n gourmet kursus gedoen het.  Ek weet van wyn ek kaas wat pas.  Ek weet van eet en drink en vrolik wees.  En ek het nie nodig om Jamie Oliver te wees om `n vyfgang maal te berei nie!  Alhoewel `n resepteboek van hom, my iets nuut kan leer, toegegee.

 As jy Antjie Krog se gedig so sonder fênsie leestekens gelees het – en dit in `n boek!  Dan kan jy sien waarom ek nie twyfel of ek kan dig nie.

 Ek weet ek kan dig – al het ek net Matriek Afrikaans, al kan ek nie my eie werk beoordeel en sê dis goed of ongoed nie.  Ek vra ook nie jy moet nie.  Dis sommer net daar om te lees.  As jy tyd het.  As digkuns vir jou sin maak en as jy nie in groepies rondstaan met `n kelkie literêre snobisme in die een hand en `n lem met twee snykante in die ander hand nie.  Jy kan nie `n digter wees en vra dat ons jou bundel koop en lees, as jy in dieselfde asem ander digters se werke as minderwaardig afmaak nie.

 Ek botter my brood met `n stomp broodmes en ek sal my poems vir my  ma gee om te lees.  Ek weet dat sy sal kop.

 Die donker boom

 Die donkerte onder die boom

En elke skaduwee

En klam plek

In die bos

Wat bang maak

Maar ook roep

Kom!

 

Hier!

en daar tussen mos

en blare

waar die son

soms, nooit skyn nie

lê daar reuke

onbekend aan my.

 

Kleef soet sweet

jou lyf vol en ruik

ek myle ver jou

bangheid

op die oppervlak

`n donker poel

soos jy.

 

Nie `n slang in die

gras en donker water óf Mabalel

wat kinders bangmaak

vir die hel nie –

my poel is witskoon

onbevuil en rein

gedagtes georden

in kristalsuiwer plasse.

 

Van heuningsoet kennis

sonder woorde of gesang uit

raasbek voëltjies wat in takke hang

en eiersdoppe leeg

half oopgebreek

tussen grasspriet

verniet, verniet.

 

Gevrees om te lees

in die tekens en punte

onbeholpe alleenwees

dan `n  klokhelderlag

van verligting as die dag

wil doodgaan

en jaag om huis nader

onder my voete te kry

hardloop ek bly.

 

Oor mos en blare

herineringe oor jare

diep donker water

van pragtige woorde

wat my vang as ek val

digkuns wat my dronkmaak

met goedkoop wyn

dis joune, maar ook my eie.

 

Blydskap en verwondering

wat stiltes maak op die rimpelings

van weet!

Hy`s hier, hierdie woord

ek weet hoe hy hoort

op die boek en die lyne –

dis myne.

 

Sigeuner sê gees!

29 thoughts on “Sigeuner en Literere Snobisme in Afrikaans

  1. Goed gedaan ! Met jou mening en jou vers!!!!

    Daar is altyd iemand wat op een of ander manier hom/haarself wil verhef bo ander. Dit is met die hele lewe so.

    Ek gaan dit anders motiveer met ‘n voorbeeld(storie) : Die eerste ou wat ooit ‘n vers geskryf het doen dit vanuit eie passie , liefde en talent. Toe kom Piet wat dit ook goed doen, maar dink hy doen dit beter as die ander op die dorp en wil graag ‘n standaard stel (sy eie standaard).Hy begin vir Sannie en Andre oplei om soos hy te dink en doen. Gee hulle sertifikate. Sannie en Andre is trots op hulle sertifikate en is bang dat ander dit op hulle eie gaan doen (sonder sertifikaat), Hulle stig ‘n organisasie en noem dit ‘n “Die Dorp se Vers-akademie” met Piet as direkteur. Hulle stel die reels op en bemark hulle sertifikate geweldig. Hulle doen dit so goed dat daar by die dorp ‘n persepsie ontstaan: Dis nou die regte ding om te doen as jy wil verse maak!
    Hulle begin geld vra en die dorp begin dink- dit is die beste manier. Lorraine wil ook versies maak en doen dit baie goed, maar die dorpsraad sê – as sy nie ‘n serifikaat van die akademie het nie – kan sy nie in die Dorpskoerant skryf nie. Lorraine trek later en begin haar eie akademie op ‘n ander dorp.

    Jiss – dit word nou ‘n lekker storie. Laat ek stop , voor dit ‘n boek word.

    Wat ek eintlik wou sê: Wat het gebeur van die grootste Afrikaanse skryfreel” Ons skryf soos ons praat” – Deesdae moet ons skryf soos ‘n paar mense (met sertifikate) die reels vasstel.
    Natuurlik is ek nie teen opleiding en standaarde nie- solank ons altyd onthou – enige standaard is maar net een manier van dinge doen.

  2. Ag Sigeuner nou laat jy my wens ek het dit geskryf.

    Ek stem saam met jou oor Elf – haar woorde praat met jou; maak jou dink…… en geen sertifikaat word benodig nie want sy praat my taal.

  3. Ek het nog altyd gedink jy’s great!!!!! Nou wil ek vir jou ‘n groot verhoog bou om op te staan om al die mooi woorde in jou kop uit te roep vir almal om te hoor. Doen so voort. Gees.

  4. Die by, Sigeuner, steek al lankal in my sy.

    Die feit dat ‘n uitgesoekte klompie mense, wat hulself uitgesoek het, besluit het hulle kan die media en hulle maatjies in die media gebruik om ander mense wat pogings aanwend, af te skiet, af te kraak en af te maak. Moerse lang relase in die koerante oor hoe stupid die skrywer was om te waag om iets te publiseer. Hoeveel kakenonsin tussen die blaaie van die boek is.

    Hulle is vir my die onderhouers van APARTHEID in Afrikaans. Hulle verwag ons moet hulle boeke en bundels koop, maar hulle verbeel hulself om verhef te wees bo die Afrikaanssprekende. Hoe ligsinnig is dit? Dis tyd dat ons ophou om ou lug in te asem, en wegbreek van die ewige groef van name wat ons lees, en vir hulle wys ons het keuses, en ons geld kies vir ons.

    Hier sit ek, ver familie van Boerneef, en waar is MY frieken talent? Ek weet nie eens hoe lyk ‘n berggans nie😆 Wie het besluit hy kan skryf? Wie besluit jy, Piet Verdriet, kan NIE skryf nie?

    Nee, dis tyd vir die MENSE van Afrikaans om uit die nessies van snobisme en klieks te breek, en vry om te gaan met die taal sodat dit toeganklik kan raak vir almal wat wil toegang he. Maar miskien as die huidige trop uitsterf gaan dinge makliker gaan, wat dink jy Sigeuner?

  5. Hier is meer as stiltes op die rimpelings. Julle praat dan so pragtig met my en bowenal – verstaan! Dis meer as waarop ek gehoop het.

    Q – Mag ek net nie die laaste ou wees wat dit uit liefde, passie en talent doen nie. Die akedemies wat gestig word sal seker nimmer ophou nie – ek verstaan van hulle en dit pyn agter my ribbes waar ek my hart bere. Ek is vir opleiding, maar niemand moet dit onder my neus kom vryf nie – dit oortree my persoonlike grense. Opleiding is ook goed, maar van WEET is soms beter. Jy vertaan!

    Charms – Elf gebruik wel die Engelse werktuig, maar jel! Sy is bo grense mooi met woorde, ne? Skryf, man Charms skryf! Ek en jy stig ons eie organiese sensasie, dan maak ons woorde wat pas.

    Ingrid, jiimil!! Ek wil nie dankie se nie. Gees!

    Liana, my prampel – jy weet – sommer van al die ander poems en dinge van my hart. Jy`se inspirasie agter `n paar van my creations.

    Familie van Boerneef! Skoor? Dan is ons ok verlangs DNS! Ek`s mos Boernig, soms. Die huidige trop sal so aankarring in `n toe kraal tot in lente van dae. In die proses gaan hulle een hoop mis onder hulle hoewe versamel, terwyl ek vrylopend gaan wei – vol nuwe idees in `n oop weiveld vol blomme en soet gras, waar ek kan opkyk na blou lug en wit wolke en kreatief gelukkig wees! Te hel met voerkraal-digters!

  6. Ek stem 100 % saam. Ek het op doodgewone blogs meer goed gelees wat my regtig geraak het as in enige hoogdrawende boek deur ‘n vernaamde skrywer/digter.

  7. Ek haal my hoed af vir enigiemand wat so kan “toor” met woorde, julle wat my nou al goed “ken’ weet ek het glad nie in die ry gestaan nie, eish😉 , Elf en jy ook Sigeuner, laat partykeer my bek oophang.

    “Poetry is thoughts that breathe, and words that burn. ”
    Thomas Gray

  8. Nou kyk, Sigeuner se bekkie kort jam – sommer baie daarvan. Ek weet presies waarvan gepraat word. Ek sit met die mees kreatiefste digbundel hier in my kas van ‘n gemeenskaplike mater wat smag na aandag – maar die donner weet dit word geignoreer, dit kom mos nie uit die pen van die sogenoemde gesogdes nie. En jy Sigeuner, weet van dig, en kan maar dig. Gees, Moerse Gees!

  9. Ek het eendag lank laaaaaank (baie lank) geleë
    ook ‘n stukkie ‘poësie’ gestuur vir die ATKV
    man, was ek trots op my meesterwerk…
    maar toe laat weet hul my talent is beperk
    dat ek myself liefs nie ‘digter’ moet noem
    en word summier na die rang van ‘rym’laar’ verdoem…😦

    So sit ek en wonder steeds sedertdien
    hoe Leipoldt, Malherbe, selfs Shakespeare dit sien
    en skryf toe vir die hog’re poëtiese siel
    dat ek regtig nie taal of kuns wou verniel…
    so ek kan nie dig nie, maar ek rym steeds dolgraag
    en lees die óu “rymelaars” ↑ juis oor dit my behaag.

    Met Sigeuner se poësie (let tog op die kolle??!! :mrgreen: )
    en Elf se digkuns en my rym-kaperjolle😉
    mag ons dus nie saam onder een taal-sambreel
    met mekaar se hartsgoed (ons moedertaal) speel??😕

    En al wat ek eintlik wou kom sê is : “Ditto”!!
    “GEESie”, jy skryf my stom!!

  10. Jitte, vandat ek daar op my eie domain is mis ek ook alles😦 Sigeuner, vriendin, ek het mossie gewiet jy kan so met woorde ploeg nie….

    Ek wens ek met jou stry oor een van die boonste punte, maar alas, jy is reg.

    …en jou poem maak my moffie hart snak na asem! PRAGTIG!!!

  11. Enige persoon kan ‘n digter wees, digters word nie gebore nie, skrywers ook nie. Jy moet net dit wil doen en gemotiveerd wees. Ek het wonderlike gedigte uit kinders gekry en dit kort net ‘n inspirasie/idee. Sommige mense het meer inspirasie as ander of “wil” meer as ander. Hierdie ouens wat hul as “verhewe” beskou maak hul naam geeeeee….aaaaaaaa….teeeee. Nie almal het dieselfde belangstellings nie, daarom wil almal nie “dig” nie, maar selfs die wat nie “wil” nie, sal kan as hulle regtig “wil”. Goeie inskrywing…. GEES – hoofletters en ek staan op aandag.🙂

  12. Awe julle man – ek wens iemand kan tog met my stry…een van die “regte” digters, maar iewers is iemand besig om digter as die digter te pleit – en in die proses my ontneem van `n redelike debat.

    Vlam- ek kan regtig enige iets lees, maar die hoogdrawendes moet net nie vir my kom vertel DIS wat ek nou eerder moet lees nie. Dan moet ek my broek loop uitskud.

    Koeksissy – die woorde brand…ek sal die land van krag kom voorsien vir elke beautifull woord wat al met MY kom toor het.

    MaSharona – ek WEET! Ek weet van die gemeenskaplike mater en Skippie! Jy moet happy wees om die hele boek te mag he. Die werke van “gemeenskaplik” is net diep dinge – en ek mis julle. Dankie virrie jem! Gees, moerse gees!

    Andrinie – ek sal loer – oor ek nuuskierag van aard is.

    Flintie, plass jy maar gestry het, jou hartjie is nie mof nie, dalk skeef…never mof, mof is `n skaap, meisie.

    Nikita, ek is so gebore en so gelat staan en verder wou ek, tot hier waar ek nou voel ek loop in die see vas met golwe wat my om wil slaan. Freaky branders, die klomp verhewendes. My kinders wil ook, en jitte, hulle is maar 8 jaar oud, jy moet net sien!
    Op die plek, rus!!!!!

  13. Ek is so trots op jou dat jy jou mening gee, ek sal sommer saam met jou op die cyber berg staan en skree sodat almal jou kan hoor… veral daaaardie Literêre snobs… kan dit nie verdra nie.

    Mensdom het so verander oor die dekades, alles gaan oor wat jy agter jou naam het, of voor jou naam het… Wat eintlik saak maak is wat in die persoon se denke aangaan. Dit is wat hom “define”, spesiaal maak, ‘n individu maak wat nie soos ‘n trop skape mekaar volg nie.

    Well said friend… Hou aan, want woorde is vir jou soos kos.

    Lovies

    Colet

  14. 😆 Snaaks hoe my eerste gedagte met die lees van die titel – Litnet was.
    Interessante gedagte: Afrikaans is nou baie meer lewendig as wat dit 20 jaar terug was… die jongmense luister Afrikaanse musiek, wat toe ek op skool was jy nie eers sou erken jou Pa besit dit nie. Dis lekker, hoekom, want lirieke is ook maar net ‘n manier van dig… hulle dig en toonset hierdie land aan die brand… en die snobs het geen idee dat hulle skrywes net deur die snobs gelees word nie.

  15. My naam is Vaalseun en ek pleeg die taal op litnet – dus is ek ‘n literêre snob:mrgreen:

    Enige taal het maar sy Plebs (dis nou ekke!) en Puriteine (dis nou die baie slim mense), en ek dink albei is ewe nodig, al is daai slimmes se neuse soms bietjie hoog, so al asof hulle mis geruik het.

    Waaraan Afrikaans dalk drasties tekort skiet is iets of iemand iewers in die middel. Mense wat verstaan hoe om die gaping tussen Pleb en Puritein te oorbrug en met albei kan gesprek voer. Dit sal dat die forum wees waar ligte rymelary en verspleging sonder vrees van vervolging en verkleinering (ek dink dit was alliterasie!) gepubliseer kan word.

    Ek dink ek noem hierdie utopia…Rymnet!

  16. Colet! Watse vriend het ek tussen vriende – die alfabet maak my mal, maar ek eet hom, ja!
    Alta, dankie.
    Demoerin – watter stomme akoliet was ek nie! Juis omdat ek jaar in en jaar uit my siek digkuns-dieet uit die spens van die snobs gevolg het. Met baie geld in hul gatsakke uit my beursie! Hoe seer maak dit as mens se oe nie net flikker-flikker en dan maar weer toeval nie, maar skielik oopgaan en so bly?
    PJ – Vaalseun, Puritanisme en `n vegetariese dieet is seker die ideaal om die wereld te red, maar dit gaan die oorgroot meerderheid van die bevolking dood he, voor jy kan se ABC. Ek het meesterwerke op my boekrak en jy moet sien! Leipoldt, Totius, Boerneef, Tas, nevermaaint Puriteine! Meesters man! Waar ek en jy op `n knie moes leer, ne? Suiwerder as klatergoud en mooi! Ba! Daar het ek die snobs aan hul umff beet, nes hulle die kat aan sy umff beet het!

    Ja, ek soek ook iemand in die middel, verkieslik `n oop platform, waar elk sy eie werk kan neem en net `n knoppie kan druk en siedaar! Oop vir almal om te lees. Niemand moet dit keur nie, behalwe as dit regtig haatspraak of iets dergliks is.

    Jy`s mooi, ek gaan ek Vaalseun lees! Viva Rymnet!

  17. Daar bestaan al laaaaankal so ‘n platform Geesie!
    Loer bietjie daar op : http://woes.co.za/

    Die hele spul skrywers wat destyds daar geregistreer was het deelgeneem aan ‘n ‘marathon’-gedig ook (die langste gedig in Afrikaans – 8,828 woorde) – was vet pret – tema: Afrikaans.

    Gaan registreer gerus daar! Die terugvoer is nice – en jy, girl, sal beslis gelees word!
    (Laat weet tog maar net wanneer jy so gemaak het, ja? Ek sal graag gaan lees!!)

  18. Ek wonder ook soms (dikwels) hoekom mense wat nog nooit ‘n woord geskryf het nie, dit ‘n beroep kan maak om ander se skryfsels te kritiseer.

  19. Sigeuner,

    Hier kom snuffel ek vir resepte op Skorie se erf, struikel ek so oor ‘n miershoop en val kerplaks met my gatseggie so binne in jou storie in !! Met stom gelane ogies lees ek, wraggies dit is Sigeuner wat hier geskryf het. Sigeuner, Jy mag maar en jy kan maar skryf. Moet nooit ooit jou talente begrawe nie . Ek het nog altyd gesê jy IS ‘n skrywer duisend en jou gedigte is van die beste!

    Sigeuner soos jou gediggeie sê, dis joune jou eie, jou woorde so pragtig, jy weet waar elke woord hoort. HOu aan om jou woorde te deel met ander, ons kop dit ook, en iewers gaan iemand dit raaklees en besef dat jy meer talent het as honderde ander. Moet net nooit ophou skryf nie.

    Jou gediggie hierbo vat jou skrywers siel so mooi vas, dit is absoluut van die beste!

  20. Die ding is kritiek word nie net uitgespreek oor digkuns nie, maar oor al die kunste: uitvoerend en beeldend. Dit is die aard van kuns, jy skep en ander gee hul mening, tog stem ek saam dit hoef nie persoonlik bitsig te wees nie. Hoewel resensies noodsaaklik is as deel van die proses van skep.

  21. BB – As ek nou net oor `n wyle klaar gestoei het in my kop om bietjie stilte te kry, dan loer ek daar. Jitte! Dis mos nou `n lekker speelplek vir kinders soos ekke.

    Smurf, ek hoop nie jou gatseggie het verbande op nie? Verbande is duur teen die huidegse rentekoerz. Seg vir Hambidge ook om my boek te koop wat ek blykbaar self sal moet uitgee en sponsor.

    Rosa – nes ek getrou gedigte soek om te lees (en dugbundels) so ook lees ek resensies. So, ek glo ook dis noodsaalklik, maar wie gaan die resenente keur as woordpolisie? Ag wat ek bedoel is who is going to guard the guards? Wat is die norm van resensie vir kuns? Als voel net vir my te deurmekaar en onregverdig.

    Skoor, dankie Skoor…

  22. Kom ons begin by vrae soos waarom word daardie groot kokkedore se werk gepubliseer en met watter doel? Is dit om die digkuns aan skoliere bekend te stel of om hul daarvan te laat afsien? Of is dit omdat hul de regte uitgewer se niggie se oom se tuinwerker geken het dalk? Ek byvoorbeeld was op skool mal oor prosa en poësie, maar tot op die punt waar ek daarvan gehou het om die gedig te lees en dit vir my mooi was. Wanneer ek gedwing word om goed te lees en leer en ontledings te memoriseer vir eksamen doeleindes het dit my verafsku…en ek hou steeds nie van daai simpel werke/mislukkings nie!! MAAR onthou ook dat ja, daar is baie digters en skrywers wat wel, met of sonder hul grade baanbrekerswerk gedoen het vir die letterkunde in Afrikaans EN Engels en daarmee kan niemand geen kraaiende haan stry nie!

    Jy het reg maatjie, wat wou van grade en geleerdhede – ouma het my altyd gesê die enigste graad wat jy in die lewe benodig is ‘n ruggraat…go figure en sy was net ‘n ou plein boere tannie met st 6 en kon Jamie Oliver ‘n ding of 10 leer oor perskes inlê hoor! Nou kom ons by die vraagstuk uhm wie lees wat en wie skryf wat? Ek persoonlik voel as dit vir jou op die hart, oor of tong gelê word om te skrywe dan maak jy so en basta met die res! En dan as dit wat jy geskribbel het vir jou mooi is en ander hou ook daarvan en dit val lekker op die oog en rol lekker oor die tong dan duime op vir jou!

    Ek glo dat ons die digterswêreld vir eens en altyd moet regruk en die gewone ou op straat ook verlief maak op digkuns – en dit kan slegs gedoen word indien mense soos ek en jy en almal hier en op Woes ens wat graag skribbel se werke (wat in my oge meestal wonderwerke is) aandag geniet en gepubliseer word…

    Protea het nogal vir my ge laat weet: “Jou werke voldoen nie aan ons standaarde nie” Gmph wonner ekke – wie het nogal daai ‘standaarde’ opgestel huh? En uitgewers wil nie digbundels uitgee nie want daars nie ‘n mark nie! Nou my donner ek sê SKEP DAN ‘N MARK!!! en hou op om weird onverstaanbare goed uit te gee wat niemand wil koop nie omdat hul na die 1ste bladsy die ding vir vuurmaakpapier gebruik, en gee bundels uit wat mense graag lees omdat dit mooi is en hul aanklank vind daarby. Dis soos cd’s – mense (gewone ek en jy en jan alleman loodgieter en prokureer) koop musiek wat in die kop vassteek en iets beteken waarmee hul kan identifiseer – soos baby tjoklates of fm stereo byvoorbeeld…hoor jy dalk platinum sangers sing van “wiegerboompanpom se willewaaisanniebom” of so iets?

    My menig nog altyd – keep it simple🙂

    By the way – ek like jou skrywe bevonk sigeuner! En ek sal eerste in die ry staan vir jou handtekening in jou bundel en vertellinge boeke! wag maar – wonderwerke is bestem vir my en jou leeftyd ook…God did not forget about the ‘plain and simple’ peoples He created…cause he dont make no junk!!!!

    Love you lots en baie blessings!

    Bravo 2 oor en uit!

  23. n Regstelling. Ek het nog nooit aanspraak gemaak daarop dat ek n honneurs in toegepaste linguistiek het nie. Ek stel dit baie duidelik in my artikel dit was Lucas Malans se woorde. Mooi lees!

  24. “Jy moet die medium ken. Jy moet elke woord se herkoms, voorkoms en funksie verstaan. Ek het eers, toe ek my honneursgraad in toegepaste linguistiek gedoen het, agtergekom wat presies hierdie instrument, taal, is en hoe dit werk. Die vakman kan nie skep as hy nie respek het vir sy medium en dit goed ken nie.” – Rapport 2 Mei 2010

    Jy`s reg, dis tussen hakkies. Ek`s die sot. Jammer.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s