Tuiste » Skoor Bek » Die middag is al skemer

Die middag is al skemer

Die middag is al skemer.  Buite ruk die winde aan die vensterrame.  Ek moet onthou om die hortjies te gaan toemaak voor die volgende vlaag reen oor die berg teen my huis se dik mure kom hamer.

Ek druk as ‘n laaste gedagte dik kerse in die blakers teen die mure, en stel die kandelaar wat statig soos ‘n onderstebo balerina uit die dak hang, op sy dofste lig.

‘n Dik groentesop staan eenkant op die kolestoof, en ‘n borreltjie plof lui na bo.  Oor die plate staan potte met guitige stroopsoet patats, en wit pofferige rys.  Die brood vir die sop le op ‘n afkoelrak en rus, en die frikkadelle in ‘n tamatiesous is besig om goudbruin in die oond te raak.

Winterkos.  Hartskos.  Kuierkos.

Vanaand ontvang my woning besoek van Emily Hobhouse.  Vrou wat nie bang was om op te staan teen die ongeregtighede wat haar land se sogenaamde stoere vegters met seenwense van Britse Kroon, in my land kom aanvang het nie.  Onmenslike behandeling van vroue, kinders en oumense in konsentrasiekampe, en die vernietiging van dit wat met soveel handewerk en swaarkry, tot stand gebring is.  Donirse vermetelheid.

“In many instances I was an eyewitness of what took place. I saw families huddled up close to the railway line near Warrenton and Fourteen Streams. I saw an overcrowded train crawling along to Kimberley throughout a whole long night. I saw people, old and young, bundled in open trucks under a scorching sun near a station building without anything to eat. At midnight they were transported to empty tents where they groped about in the dark, looking for their little bundles. They went to sleep without any provision having been made for them and without anything to eat or to drink. I saw crowds of them along railway lines in bitterly cold weather, in pouring rain – hungry, sick, dying and dead.

My first visit to the Bloemfontein camp after the lapse of some weeks, was a great shock to me. The population had redoubled and had swallowed up the results of improvements that had been effected. Disease was on the increase and the sight of the people made the impression of utter misery. Illness and death had left their marks on the faces of the inhabitants. Many that I had left hale and hearty, of good appearance and physically fit, had undergone such a change that I could hardly recognize them.”

Tant Gezina Kruger, vrou van President Paul Kruger, het ook laat weet sy kom.  Hierdie vrou waarvan feitlik geen feite beskikbaar is op ‘n eerste soektog op die net nie, was nie net die President se tweede vrou nie, maar ook die tannie wat stilweg koppies en koppies koffie stoep toe moes dra wanneer landsburgers en staatsamptenare die Groot Gryse op sy stoep kom besoek het met klagtes, raad of ‘n wyse woord.  Met ‘n lang, wit beskuit by elke piering.  Deur die pyprook het sy die skinkbord neergesit en teruggegaan na haar naaldwerk of kosmaak vir die 9 kinders en hul vader, en wie anders ook tydens ete sou inval.

Susarah Frederika Johanna Magdalena Raal, hardegat Boeredogter met die skerp tong en vinnige humeur, wat alleen op hulle plaas in die Vrystaat gesit het, terwyl haar broers oorlog toe is, haar pa deur die engelse weggeneem is (saam met al hulle kos in die huis), en haar ma nooit teruggekeer het van ‘n besoek aan die dorp nie, is my derde gas.  Sarah wat besluit het, na haar ontnugtering toe sy uitgevind het hulle getroue werker van 27 jaar, Andries, het hulle ‘uitverkoop’ aan die engelse, om te gaan veg, eerder as te gaan sterf in ‘n konsentrasiekamp.  Sarah, wat tydens kontak met die engelse, gelyk gegiggel en gehuil het, om haar vrees weg te steek, waar sy langs haar broers geveg het.  Sarah wat nooit haar vrou-wees weggesteek het nie, maar wat agter haar vinnige mond geskuil het, sodat geen man haar die gevegsfront durf belet het nie.  Nie eens toe generaal Hertzog by hulle kommando aangesluit het, is daar van haar verwag om die kommando te verlaat nie.

Klara Majola en Racheltjie de Beer sal hulle seker dood verveel tussen die ouer vroue, maar gelukkig het kinders uit doerie jare beter maniere as meeste kinders van vandag.  Hulle moet maar groot-oog sit en teug aan hulle vrugtesappe terwyl die tannies rooiwyn afsluk. 

Die arme Klara en Racheltjie wat altwee die doodsbyt van koue ken.  Klara wat op ‘n voorouer van my se plaas, na haar blinde pa gaan soek het.  Hy wat sy gewone pad skuifel-skuifel geloop het, en tastend teen die aarde gevoel het vir ‘n houtjie om sy draggie vol te maak.  Om sy huismense se lywe warm te maak, en kos gaar te kry.  En Klara wat skielik besef dat die aand vinnig naderkruip, en haar pa is steeds nie terug nie.  Sy het desperaat uitgegaan en benoud begin roep.  Maar hy het haar nie gehoor nie, en sy het hom nie gekry nie.  Klara se verkluimde liggaam is later gevind. 

Dieselfde het met die arme Racheltjie gebeur toe sy in 1843 saam met haar boetie na hulle kalfie, Frikkie, gaan soek het.  Hulle het hopeloos verdwaal en sy het besef dat hulle nie lewendig deur die nag sou kom nie.  Racheltjie het vir kleinboet aangetrek met haar eie klere, en hom in ‘n uitgeholde miershoop gedruk, en self opgekrul voor die bek van die miershoop gaan sit sodat die seuntjie warm sou bly.  So is sy die volgende dag gevind.  Leweloos.  Voor haar bang, koue boetie.

Ek gooi nog ‘n houtjie op die kaggel.  Ek moet onthou om vir Chess te laat weet wie vanaand by my kuier. 

Die kelder is yskoud en voel amper klam as ek instap om wyn vir die aand uit te haal.  Gou die hortjies gaan toemaak en die stoeplig aanskakel.  Die mense sal aanstons hier wees.  Ek is bly ons is net vanaand ‘n klomp vroue bymekaar.  Net so neffens Vrouedag voel dit reg. 

Ek kan nie help om te wonder watter vroue BB, Ingrid en die Merrie vir Vrouedag sou wou oornooi nie!

23 thoughts on “Die middag is al skemer

  1. hi Skoor! hoe het jy nou my traankliere aangetas! Daardie storie van Racheltjie en Klara is darem bitter hartseer. As mens jou eie kinders het dan leef jy jou nog meer in! jy het ‘n smile op my mond laat kom met die twee kinders wat groot-oog eenkant sit met die vrugtesappies.🙂 Emily Hobhouse was darem ‘n ster hoor! Ek dink die Engelse haat haar met ‘n passie. Sy verdien die hoogste toekenning wat daar in ‘n land gemaak kan word vir dapperheid, braafheid en vreesloosheid. So ook Sara Raal. Van so ‘n vrou hou ek. Ek wonder skielik wat ek sou gedoen het in die Boere Oorlog. Daardie vrouens [en kinders/mans] veral het ‘n tawwe tyd deurgemaak want ons ons self nie kan indink nie.

  2. Sug.
    Siende dat Emily na jou toe kom, sal sy seker nie by my ‘n draai maak nie. 😉
    Sy was ‘n ou yster, ja. Haar verlowing verbreek om eerstehands te sien hoe haar mense ‘n ‘agterlike’ volkie uitmoor. Haar sluier hang nou in Hobhouse. Ek wonder of dit a.g.v ‘n bietjie sentiment was dat sy die sluier saam Afrika toe gebring het? Of ‘n gebroke hart? Anyway, ek dink sy is vandag happy. Begrawe aan die voet van die Vrouemonument, nie vergete (nooit!) deur die volk wat sy gedien het nie.

  3. Sterk vroue en dogters. Boeremense. Ons mense.
    Vir myself: Gen. de la Rey. Ek wil sy wyse leierskap ervaar en hom blindelings volg om weer ons nasie te bevry. Vir my vrou en dogters. Vir ons ontwortelde volk. Waar is sulke leiers vandag?
    En my eie oer-oupa, Martinus Oosthuizen. ‘n Redelik onbekende volksheld wat nie bang was om op ‘n perd te spring met ‘n vol sak ammunisie en sy makkers te hulp te snel deur fluitende patrone en mortier. Asook sy voorsaat, wie se handtekening op die Dingaan-traktaat pryk. En die vroue agter hierdie volksreuse.

  4. Susarah Frederika Johanna Magdalena Raal klink na my tipe mens. Dit is so cool en ek het dit nooit van te vore geweet nie. Dit is nogal jammer dat die heldedade van Rachel en Klara besig is om uit te sterf. Defnitief van die stories wat ek gereeld vir my kinders gaan vertel. Emily Hobhouse is ook ‘n stunning keuse.

    Ek het al ‘n ete gehou, maar ek dink ek moet nog ‘n ete hou. Ek het van nog ‘n paar dames onthou. 👿 Ingeval ek nie by hulle uitkom nie. . .

    http://herriemerrie.wordpress.com/2010/08/08/sterk-vroue/

  5. Charms, sorrie dol, maar vliee is nie genooi nie! Hulle slaat ek moerland toe kort voor die eerste gas aankom. Maar jy is welkom om te kom aansit.

    Jy sal Neelsie, vir hom wat klop, sal daar oopgemaak word. En vir haar wat vra, sal daar gegee word😆

    Ja Chess, weet jy, ek wou mos ‘n Schnauzer noudie dag koop, en haar sou ek ‘Emily’ genoem het. Soos in DAAI Emily. Maar toe koop ek nie die grand hond nie. Die kleintjies se verhale is kosbaar. Ken jy die Groot Afrikaanse Heldeboek?????

    Hallo Anna!

    Ja Vlam, die VUIL en AGTERLIKE lot Boors. Almal se holle mos. Ons plig om te sorg dat kinders se kinders moet onthou van die mense wat saak gemaak het, ne. Ek weet nie jong, ek dink nie sy is veel van ‘n kuiergat nie, mind you, die sluier het sy dalk saamgebring om haar te herinner aan die amperse robbies wat sy getrou het. Miskien bring sy dit saam as jy ‘n skuurdans hou?

    Hallo ou Bella!

    Die internet vertel so, DMI, wie is Skoor nou om amok te maak of Frikkie of Fanie gelei het tot die dogtertjie se dood! Ons volkie het min helde. Ek moes nou vir ‘n oomblik stilsit en dink. Wat is ‘n held. Hoe is ‘n held. Waar is die helde. Ek gaan nog vir julle blog oor my familie se helde. Eendag.

    Dion, Marthinus soos in die Groot Afrikaanse Heldeboek se een storie? Ek kon raai jy kom uit goeie grond. Njannies!

    Aag my maat, Cupcake, dis lekker om jou weer in die koppie raak te sien!!!

    Ai XP, dis oor ek so skraal deur die blogs slenter dat ek jou ete gemis het, verskoon my voorbarigheid. Onthou net, Sarah is om my tafel, ek dink jy moet maar Daisy de Melker kry😆

    Aag ou maat, die Graatjie en die H is sommer chickens man, natuurlik het ek hulle oorleef! 😆 😆 😆

  6. Skoor, Die heldeboek ken ek, het hom al baie in my hande gehad, in SA. Daar is ‘n ander een ook, myne is natuurlik stokhoringoud, diep-donkerblou omslag met groot volblad-sketse van die helde daarin, ek het nogal foto’s uit die boek geneem [jy sal weet van wie] en het dit juis op my rekenaar iewers. Die sketse daarin is baie, baie goed gedoen, potloodsketse. Ek het net te veel goed gehad laas toe ek in SA was en kon nie als ingepak kry wat ek wou saambring nie. Ek verbeel my die titel is ook iets soos “Helde van Suid-Afrika” – die kinders is ook daarin.

  7. Pingback: Vrydag die 13de, Skoor se antwoord « Om die Kombuistafel

  8. Wat ‘n besonderse groepie gaste…..! Ek belowe ek sal net doodstil in die hoekie sit en luister na hulle vertellings! (As jy net vir my so ‘n ou klein blikbordjie van die kos sal aangee)Ons is geneig om te vergeet van hierdie groot heldinne uit die verlede!
    Dankie hiervoor!

  9. Man, jy het my nou BEHOORLIK honger met jou FANTASTIESE beskrywing van die kos! Ek het amper vergeet om te lees wie jy nooi van lus kry! Baie bly dat jy die 2 kinders genooi het!

  10. Ai Chess, daai Heldeboek het ek nog nooit onder my oe gehad nie. Dit klink my ek mis lelik uit, en waar vind mens NOU so iets?

    XP, ek dink kos is heel veilig. Was dit nie die koffie wat so gespike was nie??

    Marina, jy kan sommer ‘n blikbekertjie soetwyn ook kry. Net oor jy weet in watse eetgerei kos soos kos kan smaak!😆

    Ai Madele, ek het jare terug al my Skoorkos geskei van my Skoor blog. Want as ek eers aan die eet gaan, bly alles anders agter! Ek priotiseer vreeslik moeilik as die uie en knoffel eers begin geur afgee😆 Gaan loer daar op Skoorkos, miskien is daar iets wat jy nognie geproe het nie (julle Boeremense lief mos rysvleisenaartappels, ja? Ek ook. Maar soms sit ek iets volksvreemds by, en val reg agteroor van die lekkerte!)

  11. Hei! Ek was Emily in my vorige lewe! Dankie lat jy my genooi het, nooi.
    Die tafel en kossies lyk heerlik!
    Ps Skoor SOS! SOS! SOS! Ek sukkil my jis af om te email – op hierdie tydstip vat dit 30min om een pos oop te maak en nog 60min om te reply – gooi weg tjint! Gooi net weg! Ek sal beduie, maar ek dink ouma het te min vitE olie ingeroer (dit dien as die preserveermiddel) en gebeur so 1 uit elke 100 borrils of so – sorrie dit moes jou nou tref, maar ons gooi `n ander ene in die pos…sammet die hondtandsteen, okei?

    Gees!

  12. Ai Sigeuner, miskien moet die Boer in jou lewe kyk of hy nie kan help nie – of maak hy nie uit van elektroniese goete nie? 😆

    Nou toe nou – dat JY nou Emily moes gewees het. Wie was jy voor daai??? Wil jy nie bietjie vertel van jou tyd in die ZAR nie? Dit sal werklik waardeer word. Soos in seriaaz.

    Ek doen soos jy se met die creampies. Ek vertrou die gedroogde heerlikheid het jou getref, en dat dit iewers in ‘n keteltjie staan en trek so in die vroe’ more?

    Tyd om daai nuwe comp van jou op te start. Maar klink my jou konneksie het ook ‘n opstaart nodig. Kry dit aan die gang dat die dinge kan deurkom. Soos daai geheime resep waaroor almal jou so bodder.

  13. Skoor – ek tik ek tik! Boerseun kan net ploeg – gewoonlik moet ek agter hom skouer loop staat as hy wil iets loer oppie net, anders kom hy nie reg nie. My pc en als is nou reg. Gee my nette ghap!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s